€ 19,95

ePUB ebook

niet beschikbaar

PDF ebook

niet beschikbaar

Meer van deze auteur

  • Cover Griekeland Verrassend Anders (Deel 1)
    Griekeland Verrassend Anders (Deel 1) (boek)

GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS (DEEL 2)

TRAHILA - Verrassend Anders!

Wicus Botha (alias: Griekse Boerke) • Boek • paperback

  • Samenvatting
    AGTERBLAD:
    Die son verdwyn agter die gesigseinder.
    Ons sien gryskoppe, mans en vrouens met seer knieë en waggelende bene,
    uit hul huise kom, en met die leertjie afsukkel tot onder in die water.
    ‘n Rukkie later dryf ʼn hele paar gryskoppe op die water, soos boeie
    waaraan bootjies kan vasmeer. Die water dra hulle stemme ver - tot
    hier. Ons hoor hulle gesels en wonder: “Waar is daar nóg ʼn plek op
    aarde waar mense in die skemeraand van hulle lewe, só gesellig in die
    aandskemering kan deurbring?"


    *****
    ‘n KORT SAMEVATTING (1967 woorde) MET GREPE UIT DIE TEKS VAN:
    GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS! (DEEL 2):
    TRAHILA - VERRASSEND ANDERS!
    Enkele maande na ons eerste besoek aan Griekeland, ʼn verkenningsreis van enkele dae oor die noordelike deel van die skiereiland, Peloponnesos, het ons die omstreke van Mani, die mees suidelike “vinger” van Peloponnesos, gaan verken. Wéér het ons ʼn karretjie op die lughawe van Athene gehuur en weer, sonder enige beplanning of voorbereiding het ons, met die kaart wat ons die vorige keer gebruik het op Suzette se skoot oopgevou, koersgevat. Dit was in dae voordat ons met GPS vertroud was.
    Teen middag se kant het ons in Kalamáta aangekom. Daar het mense in die bloedwarm somerson by braaitoestelle op straat gestaan staan waar ʼn uitgegroeide vark aan ʼn spit oor vuurwarm kole gebraai word. Vrouens met moulose rokke en kinders van alle ouderdomme wag hulle beurt af om ʼn porsie vleis te koop.
    Dit het behoorlik laat geword toe ons eerste pogings om by ʼn dorpie langs die onherbergsame kus slaapplek te soek op ʼn bloutjie uitloop. Met ʼn klein paadjie, wat na êrens of nêrens moes lei, het ons verder gery in die hoop om iewers slaapplek te kry. Agter ʼn motorhek, waar geroeste drade wat eens ʼn heining was, verlep tussen droë stekelgrasse hang, staan ʼn geroeste bruin bordjie waarop geskryf staan: “ONLY TRAHILA NO ROAD TO CAVES.”

    By ons aankoms in Trahila, lyk dit toe of die pad net dáár doodloop. In die proses van omdraai, sien Suzette ʼn bordjie - ʼn verbleikte, poeierblou bordjie met net één woord met die hand daarop geskryf: “ROOMS.”
    In die skadu van twee groot bome sit ʼn vrou van wie die hare al grys begin deurskemer. Sy verstaan geen woord Engels nie, maar met gebaretaal kom ons darem oor die weg. Ons besluit om dadelik te gaan afkoel – in die hawetjie waar ‘n paar bootjies voor anker lê. Net voor sonsondergang sien ons hoe ou mense, een na die ander, baaitjie met trappies teen ‘n muur afklim en in die water begin dryf.
    Ons verwonder ons aan die proses van donker word en aan oumense wat só teen skemeraand, in die aandskemering van húl lewe, ongestoord in die oopsee ronddryf. En, hoe elke mens die silhoeët van sy lewe in skemerdonker agterlaat!
    ʼn Rukkie later purrrr ... ʼn klein bootjie, met ʼn buiteboordmotortjie en iemand agterop, by ons verby die donker-skemer in. Die weerkaatsing van ʼn liggie volg hom op donker water, sáám verdwyn hulle agter donker-swart rotse.

    Teen die aand Ons ontmoet ʼn Walliese egpaar wat sê dat daar geen eetplek op Trahila is nie, dat ons gasvrou dalk bedoel het dat ons die aand by die “fees” iets te ete kan kry. Maar, hier word nie drank verkoop nie, elkeen moet sy eie drank voorsien! Maar, sê John: “Don’t worry, I have enough beer in the boot of my car for the four of us!”

    Ons hoor ʼn motorfiets uit die verte naderkom. Mense kyk opgewonde in daardie rigting. ʼn Man en meisie - albei in tradisionele Griekse drag geklee - klim van die fiets af en word na ʼn klein platformpie begelei ... ʼn paar palette wat ʼn paar meter bo seevlak teen ʼn lae klipmuurtjie neergelê is. Húlle is vanaand se kunstenaars!
    Sy voer ʼn dans uit, toe hy. Toe hy én sy. Later dans almal, oud en jonk, ook saam. In donkermaan dans gestaltes en figure saam, saam met die weerkaatsing van lig en skaduwee teen mure, saam op donker glimmende water.

    Dis reeds vroeg warm en die water is verfrissend koel. ʼn Skuitjie, met ʼn ouerige man aan die stuur van ʼn buiteboordmotortjie, gly met ligte gepurrrr ... by my verby die hawetjie uit. Hy seil met ʼn boog die diepsee in en verdwyn agter hoë rotse. Sou dit dieselfde mens wees wat gisteraand in donkerskemering hier uitgevaar het?

    Ek wil die soutwater van my lyf afwas, maar ontdek dat daar nie water in die krane is nie. Dan hoor ek die vroutjie op die stoep met iets besig, gaan met die trap af, kry haar waar sy die potplante op die voorstoep natgooi en beduie dat ek haar aandag dringend nodig het. Sy glimlag en wink dat ek agter haar aan moet kom. Ek volg haar.
    Sy lei my die tuin in, stop ʼn tuinslang in my hand en beduie dat ek my daarmee kan afspoel, glimlag ondeund, draai die kraan oop en stap weg. En, soos doringboompie tussen die rose, staan hier nou in haar tuin met ʼn tuinslang in die hand!

    Ons moet terug na die dorpie, Agios Nikolaos, om proviand te gaan koop, parkeer langs die hotel waar ek gistermiddag navraag gedoen het, en stap na die kant van die gebou waar ʼn paar tafeltjies en stoele staan.
    Op een van die tafels lê ʼn selfoon, ʼn beursie, ʼn horlosie en ʼn bos sleutels. “Kyk,” sê ek verbaas, “die eienaar daarvan is seker net gou die hotel in om iets te gaan doen of te gaan haal. Hy kom seker netnou terug.”
    Ons kies die tafeltjie wat na ons mening die beste uitsig oor die see, die hawetjie en die dorpie bied. Suzette sit haar strandkeps op, skop haar sandale uit en skuif haar stoel reg, terwyl ek gaan hoor of hulle vir ons ontbyt kan bedien.
    Ek sien niemand binne nie en roep, maar niemand antwoord nie. Toe besluit ek om liewer buite by Suzette te gaan sit en wag, totdat iemand te voorskyn kom, en sáám raak ons verdiep in die sinnespel voor ons.
    Nóú hou ons vakansie. “Zalig,” sou die Vlaminge sê.

    Sowat vyftig meter ver die see in is iemand besig om te snorkelduik. Ons sien die snorkel beweeg: ʼn entjie na links, ʼn entjie na regs, verder die see in, dan weer nader. Dan sien ons hom, met pylgeweer in een hand en pangrootte vis in die ander, tussen die rotse uitgestap kom. Ek herken hom as die man met wie ek gister hier by die hotel gepraat het.
    Met pylgeweer en vis in die hand kom hy nader en vra: “Can I help you?”
    “A nice catch!” merk ek op en vra: “Do you serve breakfast?”
    “Yes, one moment please,” sê hy en stap die hotel binne.
    Hy kom dadelik weer uit, steeds kaalvoet en met sy swembroek aan.
    Maar in plaas van die vis en pylgeweer, het hy ʼn plastiese kleedjie in die hand en spyskaart onder die arm. Water pêrel op sy lyf en drup nog van hom af toe hy die kleedjie oor die tafel sprei, dit gladstryk en met klampies aan die kante van die tafel vasknyp.
    Ek wys na die selfoon, horlosie, beursie en sleutels, en sê: “It looks like someone has forgotten …”
    Voordat ek die sin kon klaarmaak sê hy met ʼn breë glimlag: “It’s mine.”
    Ek vra: “Aren’t you afraid that someone might take it?”
    Hy lag en sê byna verontwaardig: “Here, nobody will take it.”
    Dan haal hy die spyskaart onder sy arm uit, skud druppels daarvan af, maak dit oop en sit dit voor ons neer, staan terug, vou sy arms oor sy bors en vra: “Now, what you like?”

    Toe ek in die kamer kom is Suzette briesend. Nee, smoorkwaad!
    Sy vertel: “Toe ons gistermiddag hier aangekom het was dit verskriklik warm. Ek was bly dat hier ʼn lugverkoeler in die kamer is en voordat ons vanoggend hier weg is het ek spesiale voorsorg getref: ek het die houtblinders toegemaak, die gordyne toegetrek, die kamer in skemer gehul en die lugversorger op sy koudste gestel, sodat ons na ʼn koel kamer kon terugkom. Toe ons tuiskom het ek vreugdevol die trappe opgestap, maar toe ek die deur oopstoot was die kamer stomend warm! ‘Hier bly ek nie langer nie’ sê sy, ‘die ou vrou buit ons uit, ons pak nóú op en ry verder!’
    Na ʼn ernstige woordewisseling tussen Suzette en die Griekse vroutjie en nadat haar swaer (wat Engels kon praat) se hulp ingeroep is, breek sy 'n takie van ‘n basilplant af en hou dit na Suzette uit - 'n “vredestakkie!”
    By ons gasvrou se tafel op die stoep, drink ons Mythos-bier en eet ʼn eenvoudige maal van olywe, Griekse brood, kaas en tamatie, terwyl die son deur al die skakerings van wit-geel, oranje-goud, ligroos, purperblou, blougrys en grys gaan.
    Die volgende dag gaan ons stap en klim ek plek-plek met hande en voete tussen rotse wat na benede gestort het en lang, droë grasse, bossies en stekelrige gewasse op na grotte, hoog teen ‘n loodregte bergwand, om ondersoek in te stel terwyl Suzette onder langs die pad op my wag, want sy hou nie van grasse waarin spinnekoppe, akkedisse en soms ook slange, skuil nie!
    Laer-af in ʼn kloof is stewige strukture met lae plat klipdakke - die strukture waarin geen vensters is nie, en waarvan die dakke met polgras oorgroei is - wie sou daar in die grotte gewoon het en waarvoor sou hulle die strukture gebruik het?
    Later lees ek waar Patrick Leigh Fermor (1958) die skrywer-swerwer wat ʼn groot deel van sy lewe hier rondgeswerf het skryf, dat mense van hierdie omgewing (volgens oorlewering) afstammelinge is van die Spartane van ouds; dat hulle vreemde oorheersers ontvlug het en geslagte lank hier oorleef het deur ʼn seerowerbestaan te voer. Waarskynlik was die strukture (wat op verskillende plekke in Mani voorkom) opbergplekke vir buit wat hulle van Venesiese- en Bisantynse galeie geroof het, dan is dit geen wonder dat die strukture soos ondeurdringbare ammunisie-opslagplekke van ouds lyk nie!
    Was Trahila dalk óók ʼn seerowervesting?

    Om by die Blou Grotte te kom, moet ons ongeveer veertig kilometer verder kuslangs en met ʼn smal, uitgeryde paadjie tussen ʼn paar olyfbome deurry. Op ʼn stowwerige parkeerterrein, voor ʼn bord waarop die naam DIROS CAVES geverf is, loop die pad dood. ʼn Plakkaat, met ʼn paar foto’s wat deur die venynige son verbleik is en waarvan die hoeke al omkrul, is daarteen vasgeplak.
    ʼn Paar tree die donker grotte in, staan ʼn man by ʼn vlakboomskuit. Die bootman?
    Sy hemp span om sy middellyf, twee knope is laag oor sy buik vasgeknoop, sy moue halfpad afgerol. Hy beduie dat ons kan inklim. Dan druk hy sy roeispaan teen ʼn rots vas om te keer dat die bootjie nie kantel nie, klim self in, sit die spaan dwars oor sy bene en steek ʼn sigaret aan. ʼn Onsigbare hand neem die rook weg, die lug bly vars en skoon.
    Hy stoot die bootjie met sy spaan van die kant af weg en begin roei. Eers aan die een kant, dan aan die ander kant - rustig, ontspanne, tydsaam. Ons hoor die ligte geklots van water teen die skuit waar hy die spaan insteek en uithaal. Die weerkaatsing van liggies en rotsgewelf dryf en gly oor plooibewegings in die water, omhels die spaan waar die man sy spaan insteek en uithaal, om dit weer op ʼn ander plek in te steek en uit te trek.
    Met soepel, ritmiese bewegings stuur hy die skuit deur smal gange en wye sale van een grot na die ander. Ons kyk fluister-stil, in verwondering, na die skyn van rotse en liggies wat op poeierblou-water by ons verbydryf, en luister na die geluid - die geklots van water teen die skuit en teen rotse wat in halfduister gehul is. Dit klink soos musiek wat iewers van agter by ons verbydryf, iewers voor teen rotse weerklink en in harmonie met nuwe klotsgeluide saamsmelt.
    Ons bootman dirigeer ʼn onsigbare orkes met sy roeispaan.

    Wicus Botha
    Dendermonde


    Die eerste 3 dele van die reeks “Griekeland verrassend anders!” word gelyktydig vrygestel:

    * Deel 1 - Griekeland - Verrassend Anders!
    * Deel 2 - Griekeland - TRAHILA Verrassend Anders!
    * Deel 3 - Griekeland - PELION Verrassend Anders!
  • Productinformatie
    Binding : Paperback
    Distributievorm : Boek (print, druk)
    Formaat : 210mm x 148mm
    Aantal pagina's : 151
    Uitgeverij : Griekse Boerke
    ISBN : 9789083154916
    Datum publicatie : 05-2022
  • Inhoudsopgave
    INHOUDSOPGAWE:
    GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS! (Deel 2)
    TRAHILA VERRASSEND ANDERS!

    Die inhoud bestaan uit ʼn reeks kort, interessante vertellings wat elk van 'n opskrif met subopskrif voorsien is. Die tekste word ook met kleurfoto’s toegelig. ʼn Inhoudsopgawe word nie voorsien nie, maar hier volg ʼn lys van die opskrifte en onderopskrifte wat voorsien is:

    * ʼn Perspektief op Griekeland
    * Voorwoord
    * Suidwaarts - suikermiere en ʼn ruspe wat stuipe kry
    * Die poort na Messinea - waar die oudste Europese beskawing gevestig was
    * Kalamáta vier fees - “Roasting on a spit is a sign of great celebration…”
    * Op pad na êrens of nêrens - klippe soos sponsballe
    * Taygetos - Waar berg, see en land één word
    * Agios Nikolaos - Heilige Sint Niklaas
    * Trahila – geen deurpad
    * Rooms - treetjie-vir-treetjie sukkel ons agter haar aan
    * Die toontippietoets - met haar tone voel sy of die water warm genoeg is voordat sy daarin afsak
    * Van aandskemer tot skemeraand - waar gryskoppe op water dryf soos boeie waaraan bootjies kan vasmeer
    * Die Fees - in donkermaan dans gestaltes en figure op donker glimmende water
    * Niefdag - sy lei my die tuin in, stop ʼn tuinslang in my hand en beduie dat ek my daarmee kan afspoel
    * Vandag dreig om warmer te word as gister - Suzette maak seker dat ons nie na ʼn warm kamer toe terugkom nie
    * Hy verpoos om die vis van die pyl af los te maak - met pylgeweer en vis in die hand kom hy nader en vra: “Can I help you?”
    * Onthou dat ons proviand moet koop - maar dis Sondag!

    FOTO’S en KAARTE:
    Foto’s is nie almal van onderskrifte voorsien nie, maar is so geplaas dat dit die teks verryk.
    * Kaart van Griekeland
    * Roetekaart
    * Mense lê op klippe asof dit sponsballe is
    * ʼn Vergesig na beide kante
    * Trahila – “No road to the caves”
    * Rooms
    * Dáár kan julle gaan swem
    * ʼn Paar meter die oopsee in
    * Waar oumense die skemeraand deurbring
    * ʼn Sonsondergang ... langsaam, tydsaam, ongehaas
    * Mense gesellig saam onder weerkaatsende liggies
    * Soos doringboompie tussen die rose
    * ʼn Tipiese ontbyt
    * Agios Nikolaos
    * Toe vermurwe my hart
    * Daar raak ek op die omgewing en sy mense verlief
    * ʼn Blik op Trahila
    * Grotte met vensters in gotiese styl – seerowerskuilings?
    * Strukture, ondeurdringbaar soos ammunisie-opslagplekke van ouds
    * Mani – die skiereiland
    * Foto’s van Trahila en omgewing
    * Dirosgrotte
    * Nafplio - Palamidi
    * Messiniaanse brug
    * Epídauros

    *****
  • Reviews (0 uit 0 reviews)

€ 19,95

niet beschikbaar

niet beschikbaar

3-5 werkdagen
Veilig betalen Logo
14 dagen bedenktermijn
Delen 

Fragment

VERKORTE FRAGMENTE uit GRIEKELAND VERRASSEND ANDERS! (Deel 2)
TRAHILA VERRASSEND ANDERS!

FRAGMENT Nr. 01
Ons volg die pad al kronkellende, berg-op, tussen ʼn paar huise deur die stad uit, deur ʼn groen boomryke vallei, deur ʼn nou poort en al kronkelende berg-af. Weer bergop, deur ʼn klein dorpie, oor ʼn nek en ... eensklaps lê die Golf van Messinia skitterblink voor ons uitgestrek! Van hoog bo die oseaan kyk ons oor die uitgestrekte voetheuwels van die Taygetosgebergte - die kuslyn van die Messiniaanse Golf met tallose skiereilande, inhamme en baaitjies wat deur uitsteeksels van die bergreeks gevorm word. Ver op die horison vorm berg, see en lug ʼn eenheid, asemrowend mooi!
Ons hou stil om die vergesigte, die uitgestrektheid in albei rigtings, deeglik gade te slaan en word verras deur ʼn aangename koel, vars, berglug en die geur van kruieplante teen berghange langs die pad - ʼn aroma so subtiel soos goeie parfuum! Ruwe berge reik hemelwaarts.
Hoog teen ʼn berghang, hang ʼn dorpie soos ʼn arendsnes. Langs ʼn rotsrif wat diep die see in strek is ook ʼn dorpie. ʼn Entjie verder word nog ʼn dorpie deur die voet van die berg gekoester. Iets verder langs die kuslyn af is nóg een en, ja waarlik, daar ver op die gesigseinder is ook een! Iewers in hierdie omgewing sal ons tot rus kan kom!
Met ʼn klein paadjie wat na êrens of nêrens moes lei, ry ons verder in die hoop om tog iewers slaapplek te kry. Agter ʼn motorhek waar geroeste drade, wat eens ʼn heining was, verlep tussen droë stekelgrasse hang, staan ʼn geroeste bruin bordjie. Daar staan geskryf: “ONLY TRAHILA NO ROAD TO CAVES”. Dit lyk of die pad hier doodloop. Ek wil verder, maar Suzette wil nie. Sy wil omdraai en sê: “Jy sien mos die pad loop hier dood!”
Ek herinner haar daaraan dat dit ʼn uur of twee kan duur om weer met die kronkelpaadjie oor hoë berge terug te ry, Kalamáta toe. En, dat dit al donker sal wees wanneer ons dáár iewers, wie-weet-waar, slaapplek moet gaan soek. Dan skiet die woorde van ʼn liedjie uit my kinderdae my binne en ek begin sing:
Keep right on to the end of the road,
Keep right on to the end …
Só ontdek ons Trahila, maar wat van slaapplek?

*****
FRAGMENT Nr. 02
Voor ʼn paar huise aan die oorkant van die baaitjie sien ons ʼn ouerige vrou met trappies teen ʼn drie-meter hoë betonwal afklim tot onder in die water. Haar lyf en bewegings verraai haar ouderdom. Sy swem ʼn paar meter vryslag, slaan oor na borsslag en wissel dit af met rugslag. Sy swem verbasend goed vir haar ouderdom - ver die see in. Later sien ons haar, ʼn hele ent die see in, op haar rug dryf. Ons sien ook ander gryskoppe, mans en vrouens, met seer knieë en waggelende bene uit hulle huise kom. Hulle sukkel óók met die leertjie af, tot onder in die water. ʼn Rukkie later dryf ʼn hele paar gryskoppe op die water, soos boeie waaraan bootjies kan vasmeer! Die water dra hulle stemme ver ... tot hier. Ons hoor hulle gesels en wonder waar daar nóg ʼn plek op aarde is waar mense in die skemeraand van hulle lewe só gesellig saam die aandskemering kan deurbring?

*****
FRAGMENT Nr. 03
Die son hang laag oor die plek waar hy soos ʼn ou man, ná ʼn lang dag se harde werk sy rus gaan opsoek, die deken oor sy kop gaan trek en wegraak om te slaap totdat hy môre, in die vroeë oggendure weer die sleur van ʼn lang somerdag gaan aanpak. Dan verdwyn hy agter die gesigseinder, strooi goud teen ruwe rotse terwyl skaduwees langsaam teen rante en kranse van hoë berge opklim. Hier huiwer die son lank om onder te gaan. Eers verloor hy sy intensiteit, dan verkleur die lug tot liggeel, intense skakerings van oranje, goud, brons en rooi, wat verander in ligroos wat op die horison huiwer ... dan blougrys en grys. Grysblou en grys word donker, die water grysbruin, bruin-swart. ʼn Silhoeët van berge weerkaats op donkerswart, glimmende, water. Alles gebeur met verdrag - langsaam, tydsaam, ongehaas, stadiger as stadig, maar tog só gou! Dis betowerend, fassinerend mooi. ʼn Mens beleef dit met ál jou sintuie, elke oomblik daarvan! Onbewus wil jy daaraan vashou, dit vasgryp, voordat dit weer verander. Tog sien jy in afwagting uit na elke verandering, bly jy in verwondering staar en kyk hoe een kleur in die ander smelt. En dan ...?

*****
FRAGMENT Nr. 04
Op pad om die eetplek te soek ontmoet ons ʼn Walliese egpaar wat sê dat daar geen eetplek op Trahila is nie, dat ons gasvrou dalk bedoel het dat ons die aand by die “fees” iets te ete kan kry. Dis waarom húlle hier is - die fees! Want op Trahila word vanaand feesgevier. Dis die laaste van ʼn reeks somerfeeste in die streek. Hier word vark gebraai - ʼn heel vark aan ʼn spit oor kole! Maar hier word nie drank verkoop nie, elkeen moet sy eie drank voorsien sê John. “But, don’t worry,” sê hy, “I have enough beer in the boot of my car for the four of us!”
In haar boek, North of Ithaka, skryf Eleni Gage: “Roasting on a spit is a sign of great celebration that is not appropriate in mourning.” Sy brei uit oor die betekenis van bepaalde feesgeleenthede wat hierdie tyd van die jaar oral in Griekeland gehou word. Die varkbraaiery gister op straat in Kamalata, was seker ook deel van die somerfeeste, dink ons. Want dis nou feestyd in Griekeland!
Hier is nog niks te sien of te hoor wat daarop dui dat hier vanaand enige feestelikheid gaan plaasvind nie, selfs die geblêr van luidsprekers is afwesig. Maar die geur wat ons vanmiddag in Kalamáta se strate geruik het hang swaar in die lug. Dan hoor ons mense lag en gesels, sien hoe hulle plastiese tafels en stoele uit huise dra en in ʼn oop ruimtetjie tussen die kerkie en ʼn ander klipgeboutjie rangskik, waar ʼn elektriese kabel met gekleurde gloeilampies gespan is. Later is daar omtrent veertig of vyftig mense bymekaar – volwassenes, oumense, jongmense, oupas en oumas, pa’s en ma’s, kinders én kleinkinders. Dan sê John: “It’s time for us to go and stand in the queue.”
Ons hoor ʼn motorfiets uit die verte naderkom, hy jaag nie. Mense kyk in daardie rigting en ʼn opgewondenheid word merkbaar.
Iemand begin handeklap toe ʼn man en meisie van die fiets afklim, albei in tradisionele Griekse drag geklee en met tradisionele musiekinstrumente om die nek. Hulle word vriendelik ontvang en na ʼn klein platformpie begelei - ʼn paar palette wat ʼn paar meter bo seevlak teen ʼn lae klipmuurtjie neergelê is. Húlle is vanaand se kunstenaars!
Sy gaan sit op die muurtjie. Met een voet op die muurtjie, draai hy na haar. Teen die agtergrond van drywende weerkaatsende liggies op donker glansende water, begin hulle speel en sing. Na ʼn rukkie sing mense saam en klap hande op maat van ritmiese musiek. Kleintjies klap ook hande en sing saam asof hulle die liedjies goed ken - hulle kén die musiek!
Sy voer ʼn dans uit, toe hy, toe hy en sy. Later dans almal, oud en jonk, ook saam - In donkermaan dans gestaltes en figure saam, saam met die weerkaatsing van lig en skaduwee teen mure, saam op donker glimmende water.
*****

FRAGMENT Nr. 05
Suzette hoor my binnekom en roer luierig waar sy nog snoesig in die bed lê.
Ek wil die soutwater van my lyf afwas, maar ontdek dat daar nie water in die krane is nie. Dan hoor ek die vroutjie op die stoep met iets besig, gaan met die trap af, en kry haar waar sy die potplante op die voorstoep natgooi. Ek beduie dat ek haar aandag dringend nodig het. Sy sit die gieter neer, skuifel oor die stoep en sukkel met die trappies op. Ek volg haar.
Bo, stap ek voor haar die badkamer in, beduie dat ek wil stort, draai die krane oop en wys dat daar nie ʼn druppel water uit één van die krane kom nie. Sy glimlag en wink dat ek agter haar aan die trap moet af. Denkende dat onder ook ʼn stort is volg ek haar.
Sy lei my die tuin in, stop ʼn tuinslang in my hand en beduie dat ek my daarmee kan afspoel. Verdwaas staan ek nou hier soos doringboompie tussen die rose in haar tuin, met ʼn tuinslang in die hand. Sy glimlag ondeund, draai die kraan oop en stap weg. En, ja, hier staan ek nou in haar tuin en was met ʼn tuinslang seesout van my lyf af! Miskien sou ek dit ook op ʼn plekkie iewers aan die Kaapse Weskus óf by die Transkeise Wildekus gedoen het. Maar vanoggend voel ek soos ʼn klein seuntjie toe my ma my ʼn tuinslang in die hand gestop het om modder van my lyf af te was voordat ek die huis mog binnegaan.
*****

FRAGMENT Nr. 06
By Agios Nikolaos parkeer ons langs die hotel waar ek gistermiddag navraag gedoen het en stap na die kant van die gebou, waar ʼn paar tafeltjies en stoele staan. Op een van die tafels lê ʼn selfoon, ʼn beursie, ʼn horlosie en ʼn bos sleutels. “Kyk,” sê ek verbaas, “die eienaar daarvan is seker net gou die hotel in om iets te gaan doen of te gaan haal. Hy kom seker netnou terug.”
Ons kies die tafeltjie wat na ons mening die beste uitsig oor die see, die hawetjie en die dorpie bied. Suzette sit haar strandkeps op, skop haar sandale uit en skuif haar stoel reg terwyl ek gaan hoor of hulle vir ons ontbyt kan bedien. Ek sien niemand binne nie en roep, maar niemand antwoord nie. Toe besluit ek om liewer buite by Suzette te gaan sit en wag totdat iemand te voorskyn kom. Saam raak ons verdiep in die sinnespel voor ons - nóú hou ons vakansie! “Zalig," sou die Vlaminge sê.
Sowat vyftig meter ver die see in is iemand besig om te snorkelduik. Ons sien hoe hy bo die water uitkom, sy duikbril versit en water daaruit gooi. In een hand hou hy ʼn pylgeweer vas. Hy het nie ʼn duikpak aan nie, maar toe hy weer onder die water wegduik sien ek dat hy darem “flippers” gebruik. Ons sien die snorkel beweeg: ʼn entjie na links, ʼn entjie na regs, verder die see in, dan weer nader. Dan sien ons hom, met pylgeweer in een hand en pangrootte vis in die ander, tussen die rotse uitgestap kom. Ek herken hom as die man met wie ek gister hier by die hotel gepraat het.
Met pylgeweer en vis in die hand kom hy nader en vra: “Can I help you?”
“A nice catch!” Merk ek op en vra: “Do you serve breakfast?”
“Yes, one moment please,” sê hy en stap die hotel binne.
Hy kom dadelik weer uit, steeds kaalvoet en met sy swembroek aan, maar in plaas van die vis en pylgeweer, het hy ʼn plastiese kleedjie in die hand en spyskaart onder die arm. Water pêrel nog op sy lyf en drup van hom af toe hy die kleedjie oor die tafel sprei, dit gladstryk en met klampies aan die kante van die tafel vasknyp.
Ek wys na die selfoon, horlosie, beursie en sleutels, en sê: “It looks like someone has forgotten …”
Maar voordat ek die sin kon klaarmaak sê hy met ʼn breë glimlag: “It’s mine.”
Ek vra: “Aren’t you afraid that someone might take it?”
Hy lag en sê byna verontwaardig: “Here, nobody will take it.”
Hy haal die spyskaart onder sy arm uit, skud druppels daarvan af, maak dit oop en sit dit voor ons neer, staan terug, vou sy arms oor sy bors en vra: “Now, what you like?”

Wicus Botha (alias: Griekse Boerke)
DENDERMONDE

*****
Die eerste 3 dele van die reeks "Griekeland verrassend anders!" word gelyktydig gepubliseer en vrygestel:
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 1
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 2 - Trahila
Griekeland - Verrassend anders! DEEL 3 - Pélion ×
SERVICE
Contact
 
Vragen